KPO Verhaal

Kempton Park Oos ʼn verhaal van groei – Dr. J C vd Merwe

Die getal belydende lidmate oor die jare vertel ʼn storie van sy eie. Soms was daar groei in getalle en soms het die getalle afgeneem. Hoe dit ook al sy die lidmaat statistiek oor die jare vertel ʼn interessante verhaal. Die statistiek sien soos volg daaruit: 697 in 1966, 734 in 1968, 544 in 1974, 540 in1976, 648 in 1983, 802 in 1998, 908 in 2003, 935 in 2005, 903 in 2006, 814 in 2011, 797 in 2012, 721 in 2013.

Kempton Park Oos is gestig in 1965. Daardie jare was die enigste gebou op die kerkterrein die saalgedeelte van die huidige kerkgebou. Die kerkterrein en tuin was nog nie ontwikkel soos nou nie. Tot en met 1983 was daar oor ʼn tydperk van bykans 30 jaar min groei in die gemeente.

  terein

Dit was eers nadat die gemeente in die negentigerjare ʼn goed beplande en gestruktureerde gemeentebou proses begin het dat die gemeente groei op verskillende terreine begin beleef het. ʼn Groot groep kerkraadslede en lidmate het deel geword van die gemeentebouproses wat in die jare negentig begin is. Die leraars van die gemeente het die eerste gemeenteboukursusse wat deur prof. Malan Nel aangebied is deurloop en die beginsels dadelik op die gemeente begin toepas.

Almal wat betrokke geraak het by die proses het gou besef dat gemeentebou nie ʼn programmetjie is wat jy sommer so gou-gou kan afhandel nie. Gemeentebou is ʼn deurlopende proses wat almal se volgehoue entoesiasme vra. Die motivering, ontvriesing en missie formulering is iets wat deurloop deur al die fases van die proses. So is die gemeente analise en die omgewingsanalise ook deel van die proses wat gereeld tydens die proses gedoen moet word, (en hoe het die omgewing waar die kerkgebou staan net nie oor die jare verander nie) so ook is die strategiese beplanning jaarliks gedoen om jaarliks aan te pas by die veranderende omstandighede en daarmee saam die implementering van die strategiese plan (die bedieningsplan) vir die gemeente en die bereiking van die doelwitte. Telkens wanneer ons aan die einde of die begin van ʼn nuwe jaar die evaluering gedoen het kon ons sien watter van die doelwitte het in stabiele bedieninge geëindig en in watter opsigte waar die doelwitte nog nie gerealiseer het nie moes die proses herhaal word. Soos ek reeds opgemerk het, het die omgewing waar die kerkgebou staan, oor die jare onherkenbaar verander. Nie net is nuwe paaie gebou nie, die hele gebied wes van die kerkgebou het in ʼn ligte nywerheidsgebied verander. In die jare voor 2000 was dit plotte met woonhuise, diere en klein landerye mielies en so meer. Ek het in 1980’s dikwels wanneer ek laat in die aand van huisbesoek af terugkom duikertjies en vlakhase tussen die plotte gekry.

Baie van die ouderlinge, diakens en lidmate wat in die vroeë beginjare deel was van die gemeentebou proses is of reeds oorlede of het verhuis. Hier dink ek aan mense soos wyle Danie Malan, Sussa de Jager, Dawid Jacobs, Yvonne Geelhuizen om maar enkeles te noem van die wat reeds oorlede is. Hulle was deel van die groot groep lidmate (baie van hierdie lidmate is vandag nog steeds betrokke by die gemeentebouproses) wat entoesiasties deelgeneem het aan die vergaderings daar in die begin toe ons nog geworstel het met die vrae soos: Wie is die gemeente? En ook: waar gaan die gemeente heen? Ek onthou nog hoe opgewonde ons was toe ons kon saamstem oor die antwoord wat ons in Fil 2: 10-11 gekry het. Op grond van hierdie paar verse het die leierskorps van daardie jare onsself daaraan verbind om toe sien dat: ‘In die Naam van Jesus, elke knie sou buig en elke tong sou erken: Jesus is die Here tot eer van God die Vader’. Ons het van die begin af besef dat missie formulering nie maklik is nie. Dit was egter ʼn goeie begin en ons het besluit om voorlopig daarmee te volstaan. Later het hierdie missie formulering gestalte gekry in ʼn visuele uitbeelding van die gemeente se visie: naamlik ons groei na bo, na binne en na buite.

Die destydse leiers het verder besluit om baie deeglike aandag aan die eredienste van die gemeente te gee aangesien dinamiese eredienste ʼn gemeente motiveer op die weg van effektiewe vernuwing. So is daar ‘n eredienswerkgroep saamgestel wat gereeld elke maand vergader het en wat ook gereeld besoeke by ander gemeentes en kerke moes bring om waar nodig by hulle te leer. En het ons nie baie geleer nie!

Ons het verder by elke vergadering in diepte oor die gemeente se identiteit gepraat om vas te stel of ons nog op koers is. Ons het ook besluit by elke geleentheid wat ons kry met al die lidmate van die gemeente oor die gemeente se identiteit te praat. Geen groepvorming (klieks) is in belang van die eenheid van die gemeente toegelaat nie.

Na sowat ʼn jaar van ontvriesing en motivering het ons uiteindelik ʼn gemeente analise gedoen. Ons het aan die hand van K L Callahan se boek 12 Sleutels tot ʼn effektiewe gemeente gewerk. 54 lidmate het aan die gemeente analise deelgeneem. Die volgende terreine is tydens die analise geïdentifiseer waarop die klem in die besonder sou val.

 

1. Spesifieke konkrete missionêre doelwitte

2. Gemeenskaplike dinamiese eredienste

3. Betekenisvolle relasionele groepe

* Daar is ook besluit op die volgende toevoegings wat later meer spesifieke aandag sou kry.

4. Pastorale besoeke deur pastors/lidmate in die gemeenskap

5. Sterk leierskapshulpbronne

6. Deeglike deelnemende hulpbronne

7. Gesonde finansiële hulpbronne.

 

Daarna is ʼn loodskomitee van 12 lede aangewys. Hulle het aan die begin bekend gestaan as die Projekspan. Ek onthou dat die naam van die Projekspan op die eerste vergadering verander is na die Werkgroep Kerkbestuur. Die Werkgroep Kerkbestuur het baie moeite gedoen om alle kerkraadslede en gemeentelede toe te rus en te motiveer om self die evangelie te versprei. Hulle moes die voorbeeld stel deur entoesiasties te wees vir alle uitreik aksies wat die gemeente sou loods. Die predikant(e) wat op daardie stadium aan die gemeente verbonde was, is op verskeie toerustingskursusse gestuur om meer te leer van proses bestuur en fasilitering.

Ons het ook begin om ʼn geldkas, koskas en klerekas te vestig om alle mense in nood wat die Here oor ons pad sou bring daadwerklik te kan help. Hier moet ek onmiddellik byvoeg dat die hulp in die meeste gevalle gegee is nadat daar ʼn deeglike behoeftebepaling gedoen is. Daar is ook ʼn evangelisasiewerkgroep op die been gebring wat moes toesien dat soveel as moontlik lidmate toegerus word om die evangelie aan alle mense uit te dra. Aan die heel begin het ons die EE III kursus gebruik en daarna die GETP en toe Getroue Getuies. Die opgeleide evangelisasiewerkers het op Woensdagaande in spanne van twee mense in die gemeenskap besoek deur van deur tot deur te gaan. Ons het letterlik honderde huise besoek en met baie verskillende mense in die omgewing kontak gemaak. Ons het kerse, vuurhoutjies en gloeilampe gratis uitgedeel om die evangelieboodskap wat ons gebring het te ondersteun. Dit was veral in daardie tyd dat die gemeente ʼn sterk groei in getalle beleef het. Met die oog op hierdie missionêre werk is daar Bybelstudiegroepe en gebedsgroepe gestig. Daar was veral een groep wat onmisbare werk gedoen het, naamlik die voorbiddingsgroep. Hulle het gereeld bymekaar gekom op Woensdae en ook Sondagoggende om voorbidding te doen vir die uitreik werk en ook die ander werk van die gemeente. Daar was ook ʼn baie doelgerigte bediening in die gevangenisse.

In daardie tyd het ons ook reeds begin met ʼn poging om die kleingroep bediening van die grond af te kry. Ons het dit die 5-gesin wykstelsel genoem. Uit hierdie stelsel het die hele idee van groeigroepe uiteindelik ontwikkel. Die 5-gesin wyke het Sondagaande by ʼn huis in die wyk bymekaar gekom vir Bybelstudie en gebed. Dit is ook in hierdie tyd waar ons besef het dat diakens nie bloot as kollektante van die gemeentelike offergawes kan dien nie, die Here het diakens geroep om barmhartigheidswerk te doen. Die ouderlinge het toe verantwoordelikheid vir die stoflike belange van die gemeente aanvaar deur onder andere die offergawe in te samel.

Die kerkkompleks is natuurlik ook in daardie beginjare opgerig. Ons moes bou omdat die saal te klein geword het. Daar was Sondae nie meer plek in die saal nie. Maar om te bou was makliker gesê as gedaan. Daar was nie geld nie. Ons het geloof en entoesiasme gehad, maar dit was ook al wat ons gehad het. Ons het egter met ons geloof en entoesiasme begin bou ....en toe die bouwerk voltooi was kon ons terugkyk op ʼn bouprojek wat ons kontant voltooi het. Ons het die orrel gekoop die matte ingesit die houtwerk by die kansel voltooi alles sonder ʼn sent skuld. Die gemeente, wat terloops gewone gemiddelde salaristrekkers was, soos nou ook maar, het saamgewerk, bygedra, fondsinsamelings funksies gereël, die predikant het die Comrades marathon ʼn paar jaar na mekaar aangedurf en die gemeente het hom elke keer per kilometer geborg en so kon ons uiteindelik die kerkkompleks kontant inwy.

Ons het ook die hele tyd ʼn prent in ons hart gedra van ʼn pragtige, plantryke kerkterrein wat die koppe sou laat draai. As ons vandag die eindresultaat sien besef ons, die tuin, die hele kerkterrein is ons nederige poging om ons respek en eer vir God te weerspieël. Mettertyd het ons die pragtige Palmsaal by gekry. In hierdie pragtige saal word kinderkerk, rugbyontbyte, feesvieringe met oujaar, ons kontreifees en nog vele meer.

Daar was twee termyne toe Kempton Park Oos saam met die voltydse bediening hier, ook saam met gemeente Kempten ʼn predikant gedeel het. Die predikante was veral verantwoordelik vir die bediening van die jongmense en kinders. Uit ons gemeente het nie minder nie as sewe gemeentekinders teologie gaan studeer en uiteindelik predikante geword, onder wie ook ons huige leraar ds Anneline. Ek glo dit behoort ʼn soort rekord te wees, aangesien ek nie bewus is van enige gemeente wat soveel predikante opgelewer het nie.

Vir baie jare het Kempton Park Oos ook gedien as basis van waar na sukkelende gemeentes uitgereik is. Dit het bekend gestaan as die Kosmos-bediening. Baie gemeentes het deur hierdie bediening hulp en veral nuwe hoop gekry en is vandag nog sterk en goed funksionerende gemeentes.

Deur al die jare het die Werkgroep Kerkbestuur aan die begin van elke nuwe jaar doelwitte gestel wat moes help dat die gemeente se visie sou realiseer. Die gemeente het ʼn aantal waardes aanvaar wat moes dien as riglyne waarvolgens die gemeente hulle geloof sou uitleef. Die waardes word steeds elke Sondag aan die gemeente bekend gestel. Die aanvanklike visie van die gemeente is mettertyd vervang. Die ou visie van ons groei na bo na binne en na buite, het plek gemaak vir ʼn nuwe visie naamlik Om deernis te hê met alle mense wat God oor ons pad laat kom. Die huidige visie is: ʼn Gesonde gemeente en dit kan ons alleen wees as ons soos ‘strome lewende water’ die wêreld invloei en ‘n verskil gaan maak.